
Chics@Pharos
Chics wil verseker dat behoeftige kinders in gesonde en funksionele huishoudings grootword. Gemeenskapsnetwerke word hiervoor gebruik deur “Chics officers” se fasilitering van ’n netwerk tussen kinders, ouers, dagsorgsentrums, kerke, skole en ander belanghebbendes. Deur hierdie proses word rolspelers gelei tot die ontdekking van hulle eie vermoëns en bronne om huishoudings se lewenskwaliteit te verbeter. Pharos ondersteun die Mamelodi-tak van hierdie projek.
Kontak: Catherine Senyolo: 076 892 0470/catherinesenyolo@nova.org.za

Half/Time
HALFITIME is ʼn verposing in jou lewe om te reflekteer op: wat het ek bereik, wie het ek geword en gaan dit saak maak op die ou einde? Dit is ook 'n tyd om oogkontak met God te maak en jou unieke opdrag te kry vir die tweede helfte van jou lewe.
HALFITIME bestaan uit die bywoning van ʼn Inligtingsessie of Seminaar - vir jou om te bepaal of jy in HALFITIME is of nie, wat dan opgevolg kan word met ʼn HALFITIME reis van een jaar - met 10 Forum sessies (een sessie per maand), saam met ʼn klein groep mede-Christene – om jou toepaslik voor te berei vir die tweede helfte.
Lees gerus die HALFITIME boek van Bob Buford – en besoek: http://www.halftimesa.co.za/ vir meer inligting.
Kontak Rudi by: Projekte@Pharos.org.za
Skryfbehoefteprojek
Pharos verskaf jaarliks nuwe skryfbehoeftes aan behoeftige kinders gedurende Januariemaand. Die kinders word geïdentifiseer deur personeel en maatskaplike werkers van skole in die omgewing, asook deur die plaaslike CMR. Pakkette word aangekoop vir die verskillende grade, sodat die leerders gereed is vir die nuwe skooljaar.
Jakob-se-Put
Jakob-se-Put is ’n ondersteuningsnetwerk vir mense “tussen werke”. Persone “tussen werke” vergader op Donderdae om 09h00 by Pharos. Hier ontvang hulle geestelike en emosionele ondersteuning by die Projekspan. Verder word hulle begelei in die soeke na werk en/of die begin van nuwe besighede.
GBI - Gemeenskaps-besigheidsinisiatief
Hierdie projek het ontstaan as gevolg van die grootskaalse werkloosheid in Pretoria-Oos. Daar word tans beraam dat `n minimum van 4 000 huishoudings direk daardeur geraak word. Gevolglik kan ons as die liggaam van Christus nie apaties staan teenoor die nood nie en bring dit ons in beweging om iets daaraan te doen.
Die primêre fokus van die GBI is die ontsluiting van besigheidspotensiaal deur:
- Die totstandkoming van klein interaktiewe ondersteuningsgroepe met `n besigheidsontwikkelingsfokus en
- Om die ontwikkeling van volhoubare, winsgewende gemeenskapsbesighede van Christene te ondersteun.
Projek Hanna
Huiswerkers wat lede van die Lux Mundi Sepedi-bediening is, word toegerus met naaldwerkvaardighede. Dit bemagtig hulle om uiteindelik vir hulself beter te kan sorg en `n inkomste daaruit te verdien.